Laas bygewerk op 11 Augustus 2003
Vir die jongste weergawe van hierdie leesmy-lêer, sien www.openoffice.org/welcome/readme.html
Beste gebruiker
Hierdie lêer bevat belangrike inligting aangaande hierdie program. Lees asb. hierdie inligting baie noukeurig deur voor u begin werk.
Die OpenOffice.org-gemeenskap wat vir die ontwikkeling van hierdie produk verantwoordelik was, nooi jou om as lid by ons gemeenskap aan te sluit. As nuwe gebruiker kan jy die OpenOffice.org-webwerf besoek waar jy nuttige gebruikerinligting sal kry: www.openoffice.org/about_us/introduction.html Lees ook die afdelings oor hoe om by die OpenOffice.org-projek betrokke te raak.
Stelselvereistes:
Let wel: Let op dat administrateursregte tydens die installasieproses nodig is.
Windows 98-gebruikers, let op: As u besluit om Java tydens die OpenOffice.org-installasie te installeer, sal die installeerder u vra om u stelsel te laat herlaai. U moet hierdie boodskap óf ignoreer óf u moet die OpenOffice.org-installasieprogram herbegin nadat die rekenaar herlaai het.
As u sukkel om OpenOffice.org te begin (bv. as die program hang) of as daar probleme is met skermvertoon, kan dit moontlik deur die grafikakaartdrywer veroorsaak word. As u hierdie probleme ondervind, gradeer asb. u grafikakaartdrywer op of gebruik die grafikadrywer wat saam met u bedryfstelsel gekom het. Probleme by die vertoon van 3-D-voorwerpe kan dikwels opgelos word deur die opsie "Gebruik OpenGL" te deaktiveer by 'Nuts - Opsies - Bekyk - 3-D-aansig'.
U kan OpenOffice.org 1.1 saam met 'n ouer weergawe van OpenOffice.org installeer. Indien u later sou besluit om die ouer weergawe van OpenOffice.org te deïnstalleer, moet u die installasieprogram van die jonger weergawe laat loop en die 'Herstel'-opsie kies. Dit verseker dat die nuwe weergawe korrek op u stelsel geregistreer word.
Let op dat kopieer en plak tussen OpenOffice.org 1.0 en OpenOffice.org 1.1 moontlik nie sal werk in OpenOffice.org-formaat nie. Indien dit gebeur, kies 'Redigeer - Plak Spesiaal' en kies 'n formaat wat nie die OpenOffice.org-formaat is nie, of open die dokument direk in OpenOffice.org 1.1.
Maak asb. seker dat u voldoende geheue in die tydelike gids op u stelsel het en dat lees-, skryf- en looptoegang toegestaan is. Sluit alle ander programme af voor u die installasie begin.
Indien daar probleme met die OpenOffice.org-snelbeginner opduik wanneer u die stelsel begin (bv. as die skakel ongeldig is), kan dit wees as gevolg van die feit dat die netwerkaandrywer waarop die netwerkinstallasie geïnstalleer is, nie of nog nie beskikbaar is nie.
In die meeste gevalle gebeur dit wanneer daar by die netwerkaandrywers via 'n aanmeldskrip aangemeld word. Die verbinding aan die netwerkaandrywers word dus verkry op min of meer dieselfde tyd as wat die outobegingroep programme loop, waarvan die Snelbeginner een is.
Om hierdie probleem te voorkom, moet die netwerkaandrywers via die stelsel se dienste gekoppel word. Indien dit nie moontlik is nie, kan die skakel waarmee die Snelbeginner gelaai word, uit die stelsel se outobegingroep verwyder word, of die Snelbeginner kan gedeaktiveer word wanneer die werkstasie-installasie gedoen word. Indien die stelseladministrateur reeds die Snelbeginner tydens die installasie van die netwerkinstallasie gedeaktiveer het, kan die Snelbeginner nie deur die gebruiker tydens 'n latere werkstasie-installasie gekies word nie.
Vanweë 'n probleem met die Java(TM) Access Bridge sal u die bedryfstelsel se lokale na "English (United States)" of "(EN-us)" moet stel. Hierdie is die enigste stelling wat u in staat sal stel om met programme soos ZoomText te werk. (Let wel: die program WindowEyes werk nie met OpenOffice.org nie omdat dit nie die Java-toeganklikheid-API ondersteun nie.)Die Java(TM) Access Bridge wat met hierdie vroeë toegangsweergawe geïnstalleer is, werk nie behoorlik met konvensionele Java-programme nie.
Indien u Ai Squared ZoomText met OpenOffice.org 1.1 wil gebruik, moet u weergawe 7.11 of jonger gebruik. Die datum van die Ai Squared ZoomText-aflaailêer moet ná 12 Junie 2002 wees, anders bevat dit nie al die nodige gevorderde funksies nie.
U kan die font in OpenOffice.org verander wat vir skermvertoon en drukwerk gebruik word deur dit met 'n ander font te vervang wat op u stelsel geïnstalleer is. Dit kan gedoen word deur die fontvervangingsfunksie. Kies Nuts - Opsies - OpenOffice.org - Fontvervanging om dié funksie te gebruik.
Om die font te verander wat in die OpenOffice.org-gebruikerkoppelvlak gebruik word, moet u die verstekfont "Andale Sans UI" met 'n ander font vervang en die "altyd"-opstelling vir die vervanging merk.
Verwys na die OpenOffice.org-hulp vir 'n uitgebreide verduideliking van hierdie dialoog.
Slegs snelsleutels (sleutelkombinasies) wat nie deur die bedryfstelsel gebruik word nie, kan in OpenOffice.org gebruik word. Indien 'n sleutelkombinasie in OpenOffice.org nie werk soos in die OpenOffice.org-hulp beskryf word nie, kyk of daardie snelsleutel nie reeds deur die bedryfstelsel gebruik word nie. Om sulke konflikte uit te stryk, kan u die sleutels wat deur u bedryfstelsel toegeken is, verander. Of u kan byna enige sleuteltoekenning in OpenOffice.org verander. Lees die OpenOffice.org-hulp of die hulpdokumentasie van u bedryfstelsel vir meer inligting oor dié onderwerp.
Wanner u 'n dokument via 'Lêer - Stuur - Dokument as e-pos' of 'Dokument as PDF-aanhangsel' stuur, kan probleme opduik (program stort ineen of hang). Dit is omdat die Windows-stelsellêer "Mapi" (messaging application programming interface) probleme veroorsaak in sekere lêerweergawes. Ongelukkig kom die probleem nie by 'n spesifieke weergawenommer voor nie. Vir nadere besonderhede, besoek http://www.microsoft.com en deursoek die Microsoft Knowledge Base vir "mapi dll".
OpenOffice.org gebruik Info-ZIP om die OpenOffice.org-installasie te skep en uit te pak, asook om die OpenOffice.org-XML-lêerformaat in en uit te pak. Info-ZIP-programme (ZIP, UnZip en ander programme) is gratis beskikbaar en kan gebruik word in die bronkode asook as 'n uitvoerbare program. Dit kan gekry word deur anonieme-FTP-werwe soos ftp.uu.net:/pub/archiving/zip/* te besoek.
Gedeeltes kopiereg 1998, 1999 James Clark. Gedeeltes kopiereg 1996, 1998 Netscape Communications Corporation.
Die OpenOffice.org-gemeenskap sou graag wou hê dat u aktief in die ontwikkeling van hierdie belangrike oopbronprojek deelneem.
As gebruiker is u reeds 'n waardevolle deel van die suite se ontwikkelingsproses en ons hoop om u te kan aanmoedig om 'n selfs aktiewer rol te speel as langtermynbydraer tot die gemeenskap. Sluit asb. aan en bekyk die gebruikerbladsy te:www.openoffice.org
Voltooi asb. die minimale produkregistrasie-proses wanneer u die sagteware installeer. Registrasie is opsioneel, maar ons moedig jou aan om te registreer, aangesien die inligting die gemeenskap help om selfs beter sagteware te maak en direk in gebruikerbehoeftes te voorsien. Danksy die privaatheidsbeleid neem die OpenOffice.org-gemeenskap elke voorsorgmaatreël om jou persoonlike data te beskerm. Indien jy die registrasie tydens installasie misgeloop het, kan jy enige tyd registreer by www.openoffice.org/welcome/registration-site.html
Daar is ook 'n gebruikeropname aanlyn wat ons graag wil hê u moet invul. Die resultate van die gebruikeropname help OpenOffice.org om vinniger nuwe standaarde te stel vir die skepping van 'n volgendegenerasie-kantoorsuite. Danksy die privaatheidbeleid neem die OpenOffice.org-gemeenskap elke voorsorgmaatreël om u persoonlike data te beskerm.
Die OpenOffice.org-webwerf bevat IssueZilla, ons meganisme vir die rapportering, naspeuring en oplossing van vlooie en probleme. Ons moedig alle gebruikers aan om te voel hulle is welkom om probleme te rapporteer wat voorkom op hulle spesifieke platform. Hoe meer probleme aangemeld word, hoe beter kan die gebruikergemeenskap volgehoue ontwikkeling en verbetering van die suite bewerkstellig.
Hier is 'n paar projekposlyste waarop jy kan inteken, by www.openoffice.org/mail_list.html
U kan groot bydraes lewer tot hierdie oopbronprojek selfs al het u beperkte sagtewareontwerp- of koderingservaring. Ja, u kan!
Jy sal projekte vind wat wissel van lokalisering, pasmaking en Groepware tot regte kernkoderingsprojekte. As jy nie 'n ontwikkelaar is nie, probeer die dokumentasie- of bemarkingsprojek. Die OpenOffice.org-bemarkingsprojek behels beide guerrilla- en tradisionele handelstegnieke om oopbronsagteware te bemark. Ons doen dit oor taal- en kultuurgrense heen. Jy kan ons help deur mense van hierdie kantoorsuite te vertel.
U kan help deur by die bemarkings-, kommunikasie- en inligtingsnetwerk aan te sluit, by:http://marketing.openoffice.org/contacts.html waar u puntkommunikasiekontak met die pers, media, regeringsagentskappe, konsultante, skole, Linux-gebruikergroepe en ontwikkelaars in u land of plaaslike gemeenskap kan verleen.
Indien u hulp nodig het met die OpenOffice.org 1.1-kantoorsuite, lees deur die argief vir vrae wat reeds deur die 'users@openoffice.org'-poslys beantwoord is:www.openoffice.org/mail_list.html. Alternatiewelik kan jy ook vrae stuur na users@openoffice.org. Onthou dat jy by die lys ingeteken moet wees om 'n antwoord per e-pos te kry.
Lees ook die kwelvrae-afdeling aan die linkernavigasiebalk van die OpenOffice.org-tuisblad. Dis hier waar kwelvrae geplaas word.
Die beste manier om te begin bydra, is om by een of meer van die poslyste in te teken, vir 'n rukkie te loerlees, en mettertyd die posargief te gebruik om meer oor die verskeie onderwerpe onder bespreking te leer wat bespreek is sedert die OpenOffice.org-bronkode in Oktober 2000 beskikbaar gestel is. Wanneer jy gemaklik voel, stel jouself voor met 'n e-posbriefie en begin dadelik deelneem. As jy bekend is met oopbronprojekte, kan jy ons moetdoen-lys lees om te kyk waar jy van hulp kan wees, by www.openoffice.org/dev_docs/todos.html.
Ons hoop u geniet dit om met die nuwe OpenOffice.org 1.1 te werk en dat u aanlyn by ons sal aansluit.
Die OpenOffice.org-gemeenskap